Sonskynfees Skyn Helder in die Boland

Sonskynfees 2015 het alle verwagtinge oortref! Dis asof die Boland presies geweet het hoe ‘n spesiale dag dit regtig is vir die Alta du Toit Nasorgsentrum in Bellville. Die fees het sy naam gestand gedoen, daar was Sonskyn, daar was vreugde, daar was musiek, daar was dans en daar was mense!

Die spitsvondige Shaleen Surtie Richards, pragtig getooi in rooi, het die feesgangers verwelkom. Mammas, Pappas, dogtertjies in partytjie rokkies met vlerkies en seuntjies met “ge-jellde” hare het opgewonde by die hekke ingestroom want Lollos en Lettie was natuurlik eerste aan die beurt. Die organiseerders het vir ‘n wyle die 2 maatjies van ‘n ander planeet BAIE jammer gekry want die hitte en die LOLLOS uitrustings kon nie maklik gewees het nie, maar hulle het soos altyd die gehoor laat bons, gons, wikkel en whoop whoop!

Dankbare ouers (of te wel Pappas) kon hulle kinders daarna loslaat in die groot Eaglevlei speelpark en begin ontspan. Vanaf ons eerste kunstenaar was die tent stampvol en families het die piekniekbankies en terrein begin volsit met vrolike sambrele, feeskos en lekker Eaglevlei wyn.

Met ‘n klein verandering in die program, aangesien een van die sangers se vlug vertraag was, moes Amore twee keer inspring, maar die gehoor het Amore se vertonings baie geniet, asook die Alta du Toit Nasorgsentrum kliente wat saam met haar op die verhoog kon dans. Amore is al ‘n bekende by die Sentrum en haar passie vir hierdie instansie is onmeetbaar. Nog ‘n bekende onder die Alta du Toit mense is Pierre Rossouw, hy het van die Sentrum se mense by die naam uitgenooi en weer soos laasjaar het die groepie saam met hom gesing en gedans.

Die res van die Sonskynfeessangers het met elke sessie weereens bewys hoekom hulle so geliefd in Suid-Afrika is. Suzanne Uys het gewys dat sy nie net ‘n briljante sanger van kindsdae af is nie, maar ook ‘n uiters talentvolle liedjieskrywer. Pieter Mohr het die “wilde weste” Boland toe gebring met ‘n paar van sy Country treffers. Die Sonskynfees se “Birthday-Boy”, Viljoen Retief, het ten spyte van ‘n slegte verkoue soos oudergewoonte harte gesteel en die gehoor vermaak. Dirk van der Westhuizen se vliegtuig het ge-arriveer en hy het die die skare op hul voete en op hol gehad! Die beminde Andriette Norman se pragtige warm stem was perfek gepas toe die Boland se son see se kant toe begin staan. Cheree Strydom, wat ongelukkig laas jaar weens griep, nie kon bywoon nie, was hierdie jaar saam met haar man Wynand en hulle dogtertjie op die verhoog. Die klein mensie het saam met Mamma twee liedjies gesing en daar is dalk binnekort ‘n CD van die Strydom-Trio op die rakke.

Die Sonskynfees komitee het ook ‘n beurt op die verhoog gekry, waartydens ‘n geblokte fotoraam met die sangers se handtekeninge daarop, aan die Bemarkingspan van die Sentrum oorhandig is. Toe word die fees afgesluit met die drie laaste vertonings, Snotkop, Nicholis en Steve. Snotkop het natuurlik soos ‘n Boss die fees met energieke passies oorrompell, en Nicholis het treffers van sy nuwe CD gesing en weereens gewys hoekom hy Suid Afrika se rocker is. Steve het die feesgangers op ‘n pragtige pad van nostaglie gevat met treffers van Suid-Afrika se ou musieklegendes. Hy het ook ‘n paar van sy bestes gedoen en selfs gewaag om die Blou Bul-lied in die Boland te sing. Gelukkig het die ondersteuners van die Stormers hom dit vergewe.

George Gordon, Bestuurder van die Alta du Toit Nasorgsentrum, het sy dank en waardering uitgespreek vir die publiek se ondersteuning, die ruimskootse bydraes van borge, en die kunstenaars wat almal ‘n spesiale bydrae tot hierdie projek ten bate van die Sentrum se gestremde kliente gemaak het. “In Maart 2016 maak ons weer so”, het George belowe.

Almal is baie welkom om intussen die Sentrum in Boston, Bellville te kom besoek om persoonlik te kom kennis maak, en kennis te neem van die omgee-werk wat gedoen word.

#sonskynfees #altadutoitaftercarecentre #stevehofmeyr #andriette #vijoenretief #shaleensurtierichards

Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square

www.timelesstalks.co.za  l  info@timelesstalks.co.za  l 021 975 3515  l  Durbanville